220 lande gaan bid vir wêreld
Published by online by Beeld (www.beeld.com), 21 May 2009

Neels Jackson

Die grootste Wêreldbiddag nóg word volgende Sondag reg oor die aardbol gehou.

Vir die eerste keer sal daar in al 220 lande op die sendingorganisasie Operation World se databasis gebid word dat God die stukkende wêreld moet heelmaak.

Daarby word daar gebedsbyeenkomste in 307 dorpe en stede reg oor Suid-Afrika gehou.

Die Wêreldbiddag se geskiedenis begin in 2001 toe die Kaapse sakeman mnr. Graham Power die Nuweland-rugbystadion gehuur het en 45 000 mense daar byeengekom het om te bid.

Van daardie begin af was die tema van die biddag 2 Kronieke 7:14: “As my volk oor wie my Naam uitgeroep is, berou toon en bid en na my wil vra en terugdraai van hul bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hul sonde vergewe en hul land laat herstel.”

Ná 2001 het die biddag jaarliks gegroei. Dit het eers na die res van Suid-Afrika versprei, daarna oor Suider-Afrika, toe oor die hele vasteland en daarna oor die res van die wêreld.

Verlede jaar is 214 lande betrek, maar vanjaar het die laaste ses bygekom. Hulle is San Marino by Italië, Dominika en Martinique in die Karibiese See, Saint Pierre & Miquelon aan die Kanadese kus en twee eilandstate in die Stille Oseaan: Nauru en Wallis & Fotuna.

Die aanloop tot die biddag het gister begin met gebedskettings wat dag en nag sal loop tot volgende Sondag.

Dit bestaan uit mense wat in aflos bid. In sommige gevalle vorm groepe by skole en sake-ondernemings ook skakels in dié gebedskettings, het mnr. Dawie Spangenberg, een van die organiseerders, gister gesê.

Ná afloop van die biddag volg daar 90 dae van seën.

Spangenberg sê die gedagte is dat Christene nie net moet bid nie, maar dat hulle in dié tyd die hande en voete van die evangelie sal wees.

Wat die biddag self betref, sê Spangenberg dat daar nie vanjaar ’n hoofbyeenkoms in Suid-Afrika gaan wees nie. In die stede is daar verskeie kleiner byeenkomste.

Die ankerpunt van die Wêreldbiddag is in Hongkong, waar 40 000 mense in die bekende rugby-sewes-stadion verwag word.

Gebeure daar en in verskeie ander wêrelddele sal wêreldwyd oor God TV uitgesaai word.

 

Copyright © 2012. Power Group. All rights reserved.