‘n Nuwe hoof vir Power en ‘n nuwe plan vir die Wes-Kaap
Gepubliseer in November 2005

Leiers in die plaaslike regering en bekendes uit die konstruksiebedryf het op die dansvloer kennis gemaak tydens die Power Groep se jaar-einde funksie verlede Donderdagaand in Ratanga Junction.

Dit was asof die rockmusiek en marimba-klanke saam met Graham Power die oplewing in die konstruksiebedryf wou besing. “Die Kaap, Suid-Afrka en Afrika beleef tans een van die positiefste tydperke wat ek nog ervaar het. Ek glo dat God hierdie land van ons ryklik geseën het.”

Met verwysing na die groep se welslae in die opleiding van ‘n werksmag vir die bedryf, het Power geskerts: “Om te min opgeleide mense te hê is ‘n beter probleem om mee te sit as om mense te moet afdank.” Hy het bygevoeg dat sy maatskappy in 22 jaar van goeie en taai tye nooit iemand weens oortolligheid hoef afgedank het nie.

Marius Fransman, LUK vir Plaaslike Regering en Behuising, het die aspek van opleiding verder gevoer: “Ekonomiese groei gaan hand aan hand met ‘n opswaai in die konstruksiebedryf. Nou is die uitdaging vir ons almal om die President se visie van ‘n groeikoers van 6% tot uitvoering te bring. Volgens Fransman gaan hul nuwe “Skills for Jobs”-strategie die beste breinkrag in die Wes-Kaap byeenbring, ongeag van ras of kleur. “Ons gaan werklik ‘n verskil maak hier in die Wes-Kaap, die Tuiste vir Almal.”

In wat hy beskryf het as ‘n “baie emosionele, besonderse en verblydende oomblik”, het Graham Power aangekondig dat André du Preez die leisels van die konstruksie-sy van die groep sal oorneem. Du Preez is die nuwe uitvoerende hoof van al die konstruksiemaatskappye, terwyl Power die voorsitter en grootste aandeelhouer van al die groep se maatskappye bly.

Paul Thiart van Power Coastal het die SAFCEC-toekenning in ontvangs geneem, en Pierre Grobbelaar het die SAICE-toekenning namens sy maatskappye ontvang. Beide toekennings was vir uitnemendheid in die  Thesen Island-projek by Knysna.

 

Copyright © 2012. Power Group. All rights reserved.