Power Maatskappyegroep
Gepubliseer in die Rapport in Februarie 2007

Met ‘n toenemend diverse arbeidskorps, meen werkgewers al meer dat jy nie verkeerd kan gaan deur polities korrek te wees nie.

Dit geld veral met godsdiens. Daar is ‘n groter sensitiwiteit oor verskillende gelowe wat in een werkplek geakkommodeer moet word en baie werkgewers is huiwerig om in die openbaar oor hul geloof te praat (etlike top-sakelui van verskillende gelowe wou byvoorbeeld nie kommentaar lewer vir dié artikel nie). Só word “Geseënde Kersfees” van kerskaartjies verban en voel baie werknemers hulle moet hul godsdiens by die kantoordeur los.

Maar daar is steeds sakelui wat openlik hul geloof by die werkplek uitleef.
By die Power-konstruksiegroep – wat onder meer vir siviele konstruksie by Century City, N1 Stad, V&A Waterfront, Thesen Eiland (Knysna) en golfbane (onder andere Pearl Valley, Pinnacle Point in Mosselbaai en Serengeti in Gauteng) verantwoordelik was - word daar op boupersele en in raadsale gebid voor enige groot besluite geneem of kontrakte geteken word. Daar is ‘n gebedskamer vir personeel by die hoofkantoor in Kaapstad, middagete-bidure en ‘n interne epos-nuusbrief met personeel se gebedsversoeke.

Die groep se uitvoerende voorsitter, mnr. Graham Power, hou ‘n halfuur stiltetyd in sy kantoor voor hy met sy werk begin. Ná hy in 1999 tot bekering gekom het, het Power onderneem om ‘n “24/7”-Christen te word en sy geloof te versoen met sy sakebestuur.

Ed Silvoso se boek Anointed For Business het hom laat verstaan dat sy onderneming sy bediening is, wat van hom ‘n “markplek-minister” maak.
“Dit is God se onderneming – nie my eie nie.”
Dit is egter nie altyd maklik om ‘n etiese, geloofsgebaseerde  organisasie te wees in die konstruksiebedryf, wat berug is vir omkoopgeld en ander onreëlmatighede nie. Power sê daar kom gereeld “versoeke”, maar die groep weier om omkoopgeld te betaal of te ontvang.

Power moes self ‘n paar jaar gelede erken dat hy oor die jare onwettiglik geld in die buiteland gehou het. Hy het dit reggestel en ander Christen-sakelui as deel van die regering se amnestie-proses aangemoedig om dit ook te doen. Sedertdien het hy ook ‘n anti-korrupsieveldtog (“Unashamedly Ethical”) van stapel gestuur waar individue en maatskappye ‘n onderneming teken, beskikbaar by www.int.africa.com om aan etiese waardes te voldoen.

Aan die einde van vanjaar sal ‘n “geelbladsye” publikasie met al dié name gepubliseer word. Om volgens jou geloof sake te doen het ook ander uitdagings, sê mnr. Abeeb Abrahams van die Islamitiese Albaraka Bank. “Mens kan gemarginaliseer word vanweë jou geloofsoortuiging.”

Dit is ‘n uitdaging vir ‘n Islamitiese onderneming, wat ‘n Westerse sakekultuur moet sake doen terwyl hy ook aan Islamitiese bepalings, wat onder meer rente verbied, moet voldoen.

Maar Abrahams en Power glo dit is uiteindelik tot ‘n onderneming se voordeel om dit volgens geloofsoortuigings te bestuur.

 “(Geloof) voeg waarde toe tot sake, hoofsaaklik vanweë die manier waarin ons mense hanteer - met menswaardigheid en integriteit,” sê Abrahams. “Dit gaan dan daaroor om eerlik, deursigtig en regverdig te wees en alle mense dieselfde te behandel. Dit gaan nie altyd oor die geld en titels nie.”

Om ‘n maatskappy openlik volgens geloofswaardes te bedryf, boesem ook vertroue by ander in oor sy etiese handel en wandel.

Dit is ook goed vir moraal onder werkers om die vryheid te hê om hul godsdiens na die werkplek te bring, sê mnr. Fanie Bekker van die Afrikaanse Handelsinstituut. Hy begin elke dag met nie-verpligtende oggendgodsdiens vir werkemers.

Te midde van toenemende gejaagdheid en spanning oor misdaad en ekonomiese onsekerheid, kan godsdiens en die ruimte vir stiltetyd by die werk ‘n anker vir baie mense wees.

“Een godsdiens moet net nie afgedwing word op werkers nie.”

Abrahams sê daar het die afgelope jare groter toleransie vir verskillende gelowe gekom en daar is welkom erkenning vir belangrike religueuse dae van ander gelowe. “Hoewel tagtig persent van die Suid-Afrikaanse bevolking Christene is, móét diversiteit in ag geneem word”, sê Power. Sy groep akkommodeer Joodse, Moslem, ander-gelowige en nie-gelowige werkers.

Geloofsgebasseerde ondernemings kan ook ‘n rol speel in opheffing. POWER glo dat sy geloof hom verantwoordelik maak om terug te ploeg in die gemeenskap.

Tien persent van sy wins gaan sedert 2000 aan ‘n trustfonds wat gebruik word vir opvoeding, vigs, opleiding, opheffingswerk en armoede. Hier is die woorde van Spreuke 3 vir Power ‘n inspirasie: “Vereer die Here met offerandes; uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes; dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.”

 

Copyright © 2012. Power Group. All rights reserved.