POWER MAATSKAPPYEGROEP - 21 JAAR VAN KRAG TOT KRAG
Gepubliseer in Die Burger op 6 April 2004

Met vasbyt en volharding die bult uit
Die Power Groep is vandag een van die grootste ongenoteerde maatskappye in die Suid-Afrikaanse bedryf. Die Groep se Besturende Direkteur, André du Preez, kyk terug oor die afgelope 21 jaar.
“Ek glo dat ’n sterk leierspan en ’n geesdriftige personeel, plus die vermoë om tendense in die bedryf juis te interpreteer en onsself daarvolgens te posisioneer, gesorg het dat ons oor die jare talle geleenthede kon benut.
Terwyl die meeste mededingers oor hierdie twee dekades personeel moes laat loop, het ons nog nooit iemand weens ’n gebrek aan werk afgelê nie..

“Die vermoë om tendense in die bedryf juis te interpreteer… het gesorg dat ons geleenthede kon benut.”

Ons groei
Verskeie mylpale langs die pad het gesorg vir uitdagings, elk ’n geleentheid vir groei. So kon ons mense hul vaardighede verder ontwikkel.
Die eerste mylpaal was natuurlik die visie wat Graham Power in April 1983 gehad het.

Nog ’n hoogtepunt was Blitz Asphalt: Begin in 1988 as ’n interne asfaltmaatskappy,  nou een van die top oppervlakkontrakteurs in die Kaap..
1989 - Ons eerste streekkantoor in George: Power Construction South Cape. Tien jaar daarna skuif dié kantoor Knysna toe, en word later herdoop as Power Coastal
1990 - Die ontstaan van Power Properties, later bekend as Power Developments, lê die grondslag vir ’n eiendom-ontwikkelings-en-bestuursmaatskappy.
1995 - Port Elizabeth, nog ’n streekkantoor: Power Construction East Cape.
1995 - Power Construction West Cape word in ’n divisie in eie reg, sodat hy die Wes-Kaap beter kon dien.

Ons bemagtig ander
Hughmic Construction is in 1997 gestig as Power se eerste ontluikende maatskappy.
Sibakhulu Construction word in 1998 in die Oos-Kaap ons volgende ontluikende vennootskap.
In 2000 stig ons ’n maatskappy wat hom toespits op die finansiële, tegniese en organisatoriese ontwikkelingsdienste van die Groep, Power Group Financial and Management Services.
In dieselfde jaar begin Power Construction Plant as ’n aparte maatskappy met die verhuring en onderhoud van toerusting.

Ons slaan ’n nuwe rigting in
Khayalethu Projects is die Groep se derde bemagtigende gesamentlike onderneming. Die maatskappy is in 2003 gestig. Sy klem is op bekostigbare behuising landswyd.
Power Building is ook in 2003 gestig, met residensiële en kommersiële geboue as hooffokus.
Ons beplan vanjaar ’n derde streekkantoor in Gauteng. Power Construction North sal help om ons bedrywighede in die streek te stroomlyn.

Ons mense, ons toekoms
Ons studenteprogram is belangrik vir ons toekoms. Ons is erg gesteld op Gelyke Indiensneming, en hoe ons dit vir hierdie individue moontlik maak om te groei.
Ons voel positief oor ons land en die siviele ingenieursbedryf se ekonomiese vooruitsigte.
Laastens wil ek al ons kliënte en konsultante bedank vir hul volgehoue lojaliteit en wonderlike verhoudings. Ons sal altyd ons bes doen om hul verwagtinge te oortref.”

Mense – en nie masjiene nie – is die sleutel tot sukses
sê die Power Groep se Uitvoerende Hoof, Graham Power

“Wat maak ons anders as ander maatskappye? Mense vra my nogal dikwels dié vraag.

Eerstens: menseverhoudings in die organisasie is baie spesiaal. Liefde en sorgsaamheid teenoor mekaar speel ‘n groot rol.

Ek glo ook ons sukses is te danke aan die doelwitte wat ons stel vir daaglikse of uurlikse produktiwiteit. Dit spoor ons aam, en maak die werkdag stimulerend.

Voortspruitend uit my voormalige Voorsitterskap aan die Nasionale Kommissie vir Arbeidsintensiewe Konstruksie, en die bedinging van ’n raamwerkooreenkoms met arbeidsorganisasies, was werkskepping nog altyd ’n prioriteit vir die Power Groep.

Ons verhoudings met ons kliënte was nog altyd ’n integrale deel van ons vermoë om te groei.

Ons is baie gesteld op ons sosiale verantwoordelikheid. Die Groep is betrokke by die Nasionale Biddag op 2 Mei waar al 58 Afrikalande vir ons vasteland gaan bid. Ons is verbind tot ’n MIV/VIGS Korporatiewe Strategie, en werkplekprogram en ons bedien ons gemeenskappe deur verskeie projekte, en steun gestremdes en minderbevoorregte organisasies.

Nog ’n belangrike aspek is ons betrokkenheid by Transformation Africa. Ek glo vas dat God ’n plan vir Afrika het, en dat gebed ons grondslag is vir transformasie in ons vasteland.

Die Pad Vorentoe

Ons sien onsself as die bouers van ’n sterk fondament vir die volgende tagtig of honderd jaar, waartydens ons sal strewe om as die eerstekeurse-verskaffer van siviele, ontwikkelings- en boudienste en verwante produkte in Suider-Afrika erken en gerespekteer te word.”

Van ’n bakkiebouer tot ’n bielie in die bedryf

Presies 21 jaar gelede, op ’n April-oggend naby Sir Lowry’s Pas, vat Graham Power die pad in sy tweedehandse bakkie. Met twee handlangers en baie moed, sit hy af om Power Construction se eerste siviele ingenieursprojek te pak.

Maande van wik en weeg lê agter die rug. Wat sou voorlê, was ‘n haas onbegonne taak: om moontlike kliënte en konsultante te oortuig om van hierdie nuweling – sonder masjinerie en met geen infrastruktuur se dienste gebruik te maak.

Vandag nog onthou Graham Power sy eerste groot teleurstelling: al was sy tender die laagste, het ‘n konsultant nietemin ’n waardevolle kontrak van R36 000 aan ’n mededinger toegeken.

Dit sou hom nie nie onderkry nie. Net ses maande later ken daardie selfde konsultant ’n R260 000 kontrak aan hom toe.

In daardie eerste moeilike jaar was die maatskappy se omset R300 000. Danksy ’n goeie reputasie en ’n hele streep suksesvol voltooide projekte, kon die maatskappy al hoe meer werk inwin.

Vandag het die maatskappy meer as 1 600 mense in diens met die hoofkantoor in Blackheath, en streekkantore in Knysna en Port Elizabeth en binnekort ook in Gauteng.

Power Groep staan sterk deur te sorg

As ’n verdere bewys van sy verbintenis tot die welsyn van die omgewing en die gemeenskappe waarin hy werk, is die Power Maatskappyegroep met vier PMR Corporate Care toekennings vereer.

Die Groep het twee Kategorietrofeë ontvang: vir Werkskepping en Opleiding en vir Omgewingsorg. Ook is hy aangewys as die Bedryfswenners in die kategorieë Swart Ekonomiese Bemagtiging en Sosiale Opheffing.

Professional Management Review se Corporate Care  toekennings vereer maatskappye wat uithaal en wys om ’n beter Suid-Afrika vir almal te bou. Dit is die Power Groep se tweede toekenning vir Omgewingsorg.

Die toekenning is in erkenning van die maatskappy se Korporatiewe Omgewingsbeleid, die procedures in plek op konstruksie terreine en die nodige opleiding aan personeel-lede.

Die toekenning vir Werkskepping en Opleiding huldig die toekenning van beurse aan studente en personeel, die ontwikkeling van werknemers, vaardigheidopleidingsprogramme, en die ontwikkeling van nuwe werksgeleenthede. Die Groep fokus op gemeenskapsontwikkeling deur lede van plaaslike gemeenskappe in diens te neem en op te lei.

Die Groep het hegte bande met die inisiatief vir arbeidsintensiewe konstruksie, asook met strategieë vir die bevordering van ontluikende kontakteurs.

Drie Bemagtigende Gesamentlike Ondernemings is deel van die Groep: Hughmic Construction, gestig in 1997; Sibakhulu Construction in 1998; en Khayalethu Projects in 2003.

Die Groep volg ’n holistiese benadering tot Korporatiewe Sosiale Investering. “Die ondersteuning van die gemeenskappe waarin ons dien deur hulle te transformeer gaan oor trots, verantwoordelikheid, eienaarskap en sorgsaamheid,” is die slotwoord van Power se Uitvoerende Hoof, Graham Power.

 

Copyright © 2012. Power Group. All rights reserved.